Die storie van ‘n kwilter en Mozart Akademie

Carin Scheepers –


Ek weet nie hoeveel kwilters my ken nie, daarom stel ek myself graag bekend: Ek is Carin (Kirstein) Scheepers, getroud met Dawid Scheepers en ons het ‘n seun Rick. Rick is die rede waarom ek vandag die bestuurder is by Mozart Akademie, sentrum vir leerders met (BAIE) spesiale behoeftes. Laetitia het gevra ek moet iets skryf oor Rick en hoe ek betrokke geraak het by Mozart Akademie, wat tans die Jakaranda gilde se liefdadigheidsorganisasie is.


Rick sien hierdie pragtige aarde se lig op 27 Julie 2005 vir die eerste keer. Dis toe my en Dawid se onbekende reis begin. Ek hoop om eendag alles in ‘n boek uit te gee: Geknakte Riet, Gerookte pyp!!!! Want as jou drome en ideale vir jou lang verwagte kindjie geknak word met die nuus: daar’s fout met jul baba en 16 jaar later is jy, jou man en seun ‘n gelukkige gesin, is die pyp beslis gerook in BAIE opsigte! Daar is nie omkeer óf teruggee nie. Sonder ouers of skoonouers moes ek en Dawid ons pypie rook!!! Dis genade dat ons vandag mekaar nog het!


Vandag weet ek nie hoe ek deur die eerste paar jare van Rick se lewe gekom het nie. Ek het só met die flow ge-go – dit was ‘n dolle rondomtalie wat net nooit wou stop! Doktors wat wonder; ongediagnoseerde sindroom; ontwikkelingsagterstand … Ek moes vinnig leer: dag vir dag. Dis steeds nie altyd maklik nie. Ek wil weet wat, wanneer, hoe laat, waar, waarom. Ek wil planne maak en soms is mens net doodeenvoudig nie in beheer nie. Ek moes leer nie alles is in graniet gegiet nie.


Die lewe kan oornag verander en dan moet jy aanpas óf jy gaan sink in ‘n moeras wat jy self skep! Op amper 14 maande word Rick gediagnoseer met West-sindroom en ‘n algemene ontwikkelingsagterstand. Die eerste 2 jaar van sy lewe word hospitale ons tweede tuiste! Dis waar ek eendag ‘n artikel van die Jakaranda Kwiltgilde in ‘n DIT tydskrif lees. Maande later kontak ek Jeannette Botha, maar met ‘n interressante draai by Santi Vorster (sy het Rick gespuit gedurende sy kortisoon behandeling), weet ek aan dié gilde wil ek behoort! Ek dink dit was Oktober 2006 wat ek aangesluit het.


2008 soek ek ‘n speelgroepie vir my 3jarige ……. onsuksesvol. ‘n Dagmoeder ….. na twee weke soek ek weer en gee later moed op! Ons daaglikse roetine behels spraak-, fisio- en arbeidsterapie by Nuwe Hoop skool. Rick moet tussen maatjies kom – almal vertel hy is oulik, maar hy pas werklik nie in die sogenaamde hoofstroom kleuterskole in nie. ‘n Liewe mens in ons kerk moedig my aan om hom vir evaluasie na ‘n LSEN (Learners with special educational needs) skool te neem. Uiteindelik sien iemand kans! Hy kan baat by hul program!


Ons probeer amptelik skool in 2009, maar na die eerste maand haal ek my kindjie uit en besluit hy is nog te klein! Ons begin met privaat terapie en Rick verras ons baie beslis! 2009 was die jaar van menigde wonderwerke! 2010 is Rick ge’potty train’ en mamma gereed vir skool! Sy juffrou het jare ondervinding en het self ‘n ouer gestremde dogter. Sy verstaan my kind!!!


2011 is Rick in ‘n ander klas en by ‘n ander juffrou. Die begin van ‘n slegte ervaring! Ons word kortkort ingeroep oor een of ander probleem. Tesame met Rick se terapeute probeer ons al die moontlike struikelblokke uit die weg ruim. Rick se terapeute kommunikeer werkies na sy nuwe juffrou wat sy met hom kan doen. Nuwe juffrou is van mening dat Rick nie die werk kan doen nie, maar by sy terapeute kan hy wel. Ons kind is rebels! Hy luister nie na sy juffrou nie en het slegte manière! Sy juffrou lig ons in: “al die venstertjies’ wat sy by Rick kon oopmaak is nou oopgemaak. Sy kan nie sien dat hy verder by die skool se program kan baat nie. November kry ons ‘n briefie (ek het later besef dit was standaard vir al die ouers!): diegene wat 2012 se skoolgelde vooruit betaal vir die jaar kry ‘n % korting. Ek betaal onmiddelik!


‘n Week later, kontak ‘n Mamma my, wat ook haar seun na Nuwe Hoop skool geneem het vir terapie. Sy begin haar eie skool vir kinders met spesiale behoeftes. Haar skool, Mozart Akademie open 1 Feb 2012 – privaatskool in Magalieskruin, in die noorde van Pretoria. Ek besef onmiddelik met die gelde wat ek sopas vir ‘n jaar betaal het, sal ek amper 3 maande se fooie by die privaatskool kan betaal. Vroeg in die jaar, met ‘n onverwagse besoek deur Rick se spraakterapeut aan sy nuwe klas, wou sy my dringend sien. Sê ons moet plan maak om Rick in Mozart Akademie te kry. Ek sou bitter graag Rick wou skuif, maar finansieel was dit net nie moontlik nie. Mei 2012 kom dieselfde terugvoer van
Rick se arbeidsterapeut: Julle moet Rick in Mozart Akademie sit. Daardie winter het ek paar slegte ervarings. Twee weke voor die skole sluit is ons tuis met ‘n sinus ontsteking. In die September skoolvakansie kontak Rick se arbeidsterapeut my, sy het vir ons ‘n borg – Rick kan Oktober as die skole begin, by Mozart Akademie aansluit.


Vinnig besef ek hierdie is nie regtig ‘n skool nie, maar dit is ‘n plek waar my kindjie veilig is en waar hy in ‘n liefdevolle omgewing met empatie en BAIE geduld steeds geleer word. Die eienaar het ‘n sagte hart. Soms bietjie eienaardig, maar ons is mos almal uniek en dalk self soms eienaardig! Die tutors werk saam met die terapeute om vir elke kind sy eie program uit te werk. Daar is vordering al is dit hoe gering. Daar word nie moed opgegee op ons kindertjies nie. Soms het ek verneem van ongelooflike dinge wat Rick bemeester en as ek met sy terapeute daaroor praat was hul mening mik vir die sterre en as jy oor die lyntjie spring, het jy ten minste gespring!!! Vandag weet ek elke ouer
se reis lyk anders. Uiteindelik moet jy by aanvaarding uitkom en NIEMAND kan jou sê hoe nie! Dis vir baie ouers belangrik dat hul kindjie in ‘n ‘skool’ is. Dit skep hoop op hul verwagting.


2014 – vir die eerste keer in jare voel dit of ek tyd vir myself het. Ek besluit om die SAQG teachers course wat nuut geadverteer word te doen. Wilnamarie Derkson, Jeanette Botha en ek maak ‘n groepie om studiematerial te vergelyk, na werksopdragte te kyk en so is ons deel van die eerste groep wat die kursus suksesvol voltooi.

Die laaste jaar van die kursus was nie vir my maklik nie. Ricky het weer begin om epileptiese aanvalle te kry. Alhoewel dit petit mal was, was dit van voor af doktors besoeke, toetse – traumaties!!! Asof dit nie genoeg is nie, het ons ‘n vratsongeluk en breek hy sy pelvis net toe ek met die laaste werkstuk besig is en die sperdatum my in die oë staar!!! Só dankbaar teenoor my ‘swot’ maats wat my ondersteun het en gehelp het deur hierdie tyd!!!

Dit gaan goed met my, ek bied kwiltklasse aan, stik kwilte deur en doen my eie dinge. Einde 2016 kry ons die nuus: die hoof by Mozart Akademie verhuis saam met haar gesin na Somerset Wes. Haar sussie sal 3 oggende ‘n week vir 2 ure beskikbaar wees om die sentrum te bestuur. Met ‘n lied in my hart pak ons 2017 aan. Die skool heropen in die 2de week en in die middel van die 3de week kry ons ‘n boodskap: dringende ouervergadering. Die sussie sien nie meer kans om die sentrum te bestuur nie, daar is nie fondse om ‘n bestuurder aan te stel nie – as die ouers nie plan maak nie, sluit die sentrum einde Januarie 2017.

Ander ouers vra my, maar ek dink nie ek kan dit doen nie – gee my lappies en ek wys jou hoe! Ek vra wyd en syd, bekendes en vreemdes sien iemand nie kans nie, weet hulle nie van iemand wat dit sal kan/wil doen nie! Iemand in ons selgroep kontak my. Sy en haar man gaan my help dat Rick se skool oop bly. Ek is SO dankbaar! Ek weet haar man is ‘n professor by Tukkies. En ek wonder wat is hul plan!

Die laaste week van Januarie 2017 neem ek die bestuur van Mozart Akademie oor. Daar’s net 13 kinders oor in die sentrum. 11 van die 13 maatjies se skoolgelde is op datum. Twee is baie vêr agterstallig. Daar is te veel personeel vir die getal kinders. Van die personeel staan bank vas agter my en drie dametjies besluit om te bedank. Die oorneem van die nuwe bestuur en direksie is ‘n langer uitgerekte proses as wat ons verwag het.

Finansiële state is op datum ge-oudit en die leningsrekening van byna R 30 000.00 word deur ‘n anonieme skenker vereffen. Die Moot kwilters neem ons onder hul vlerk en samel vir ons fondse in waaroor ons opreg dankbaar is. Ek ontmoet mense en kom mense teë wat onder die indruk is dat Mozart Akademie ‘n sentrum vir hoogs begaafde leerders is! Ek wil graag die ‘skool’ se naam verander, al raak ons net ontslae van “Akademie”. Ek vind uit Mozart Akademie is nooit as ‘n skool geregistreer nie. Mozart Akademie is wel ‘n NPC en PBO en was eens geregistreer as ‘n
impaksentrum. Ek begin praat van die SENTRUM en lê klem daarop dat ons nie ‘n skool is nie en ook nie ‘n sorgsentrum nie – nee, ons leer elke kindjie in ons sentrum op sy/haar vlak van ontwikkeling en tempo waarteen hy/sy werk. Ons probeer werklik om elke kindjie se volle potensiaal te ontwikkel. Ons hou nie net toesig oor gestremdes nie – ons gee erkenning aan hul menswees en is saam trots opgewonde oor die mylpale wat bereik word.

Ons kry borge en anonieme skenkings – genoeg dat ons 2017 kon afsluit met ‘n lekker partytjie vir die maatjies en nog ‘n paar rand in die bank! 2018 begin ons met 19 leerders en groei tot 24. Dit gaan goed by Mozart Akademie, maar nie sonder teëspoed nie. Daar word ingebreek by ons sentrum en ons TV en 9 rekenaars word oornag gesteel!

In 2019 loop ons weer deur. ‘n Ouer paar kom besoek die sentrum, soek plek vir hul seun. Terwyl die mamma deur die sentrum gaan, vra die pappa om die badkamer te gebruik. Skielik is hul haastig en laat vir ‘n volgende afspraak. Vra ek moet aansoekvorms vir hul epos. Terug in my kantoor is my rekenaar weg! Ons kon op ons CCTV sien hoe die sogenaamde pappa homself help terwyl die kamma mamma my besig hou! Aan die einde van 2019 neem ons afskeid van 3 maats wat uitgeplaas word na hoofstroom skole. Ons kon weer die jaar met ‘n partytjie afsluit en al ons rekeninge betaal.

Januarie 2020 open ons kleuterskool. Handz-On Nursery Centre skop af met 4 kleutertjies. Ons droom oor Work Zone wat ons beplan om 2021 af te skop vir ons ouer maats wat jong volwassenes word.

En toe tref ‘n epidemie die wêreld wat NIEMAND voorsien het nie. Ek moedig ouers aan om in my visie vir die sentrum te deel en die belangrikheid raak te sien vir die behoud van ons sentrum, maar steeds verloor ons maats. Ouers gee kennis, ander raak net weg en stil. Junie 2020 word my wêreld op sy kop gedraai toe Rick skielik grand mal aanvalle kry! Dis buite beheer en word net meer. Soms twee keer ‘n dag. Ons pas medikasie aan en gaan sien ‘n dieetkundige. Vir die volgende 2 jaar volg hy ‘n ketogene dieet.

Terug by die sentrum. Ons doen aansoek vir TERS en kry 3 maande se salarisse. Dankbaar om ons personeel te behou. Ons heropen 6 Julie 2020 met 11 leerders waarvan 9 kinders skoolgeld betaal. Omstandighede is moeilik. Ouers verloor hul werk/besighede. Salarisse word gesny. Geleidelik kom kinders terug, selfs nuwe aansoeke van leerders uit soortgelyke sentrums wat moes deure sluit! Ons ‘Landlord’ is ons goedgesind en ons haal weer asem. November 2020 kontak hy my. Hy gaan die eiendom aan sy skoonpa verkoop – ononderhandelbaar – en hy wil betyds kennis gee. Ons huurkontrak verstryk einde Februarie en sal ongelukkig nie hernu word nie!

Ek begin rond bel, uit kyk na huurplekke wat geskik sal wees vir Mozart Akademie. Nêrens ‘n plek wat aan ons vereistes voldoen, wat die ruimte het wat ons tans het nie. Ek vra weer wyd en syd na huurpersele. Iemand vra my die eienaar se nommer en ek het ‘n rustigheid oor my dat ons ‘n plek sal kry wat geskik is vir die sentrum. Ek is bewus van oproepe en gesprekke. Vergaderings en die hoop/geloof dat planne tot ons voordeel sal uitwerk. Einde Januarie kry ons die nuus: solank Rick Scheepers in die sentrum is en die skool, die maandeliks huur betaal, kan Mozart Akademie op die
perseel voortgaan! 2020 borg Bushmans Rock restaurant ons afsluiting. Ons kry ook ‘n borg om vir elke maatjie ‘n kersgeskenk ter waarde van R150.00 te koop.

2021 begin ons met 23 leerders. Ons het 9 kleuters tussen die ouderdom van 3 – 7 jaar. 2 Mensies in ons stimulasie klas en 8 maats tussen 8 en 18 jaar in ons lewensvaardigheid klas. Ons funksionele klas het 4 maats tussen 7 en 15 jaar. Hulle is die maats wat graad RR, R en 1 werkies doen. Asof ons dit kan bekostig, gee ons elektriese hekke skielik probleme. Iemand kom kyk daarna en koppel nog 2 kameras aan ons stelsel. In die proses word die alarm stelsel beskadig en vir weke is die sentrum sonder ‘n alarm en CCTV. Die alarm stelsel is onherstelbaar beskadig – dis ‘n ou stelsel wat ons tweedehands gekry het en al baie geld gekos het! Junie kom ons agter ‘n rekenaar wat in ons stoor gebêre word is weg. Ons kom oor tyd agter van ander voorraad wat ook net weg is. Alles was in ons stoorkamer in die tyd wat daar aan ons hekke gewerk is en nuwe kameras gekoppel is!

2021 is ‘n hartseer jaar met nog teëspoed. Ons verloor in Julie 2 pappa’s aan COVID-19. Ons maak kos vir gesinne en probeer ondersteun waar ons kan. Middel Augustus word my persoonlike rekenaar wat ek vir die sentrum gebruik, uit my motor gesteel!

Dis September 2021. Rick is al ‘n jaar op sy ketogene dieet. Daar is definitief ‘n verbetering. Sy aanvalle aansienlik minder – een ‘n week. By die sentrum is daar bloeisels aan die perskebome. ‘n Nuwe seisoen! Ek loop van hoek tot kant en vra God om ons sentrum te beskerm en die bose weg te hou. Om ons maats se ouers te bewaar en die sentrum van nog hartseer en teëspoed te spaar.

Nog ‘n knak in die riet – nog ‘n pyp om te rook. Hou daai dampie dop – hierdie aardse ellende gaan
ons nie onder kry!!!!!

Share:

Related Articles